6 November 2021 | Feesdag

Hierdie is die groot dag van ons Boekfees! Ons begin 10H00 tot 17H00 met ‘n propvol program. Verskeie gesprekke gaan met van die skrywers gevoer word. Daar gaan verder regdeur die dag geleentheid wees om in die rustige atmosfeer van die tuine van die SANCTUARY, op ‘n heerlike informele manier saam met jou gunsteling skrywers te kuier. Ons nooi jou ook uit om van hierdie geleentheid gebruik te maak om nuwe skrywers te ontmoet en om nuwe vriende te maak.

Weens Covid 19 reëls, sal daar ongelukkig beperkte toegang wees. Ons het dit daarom goed gedink om ‘n vooraf bespreekte toegangsfooi van slegs R20.00 te hef. Hierdeur sal jy verseker dat jou toegang tot hierdie besondere fees verseker is. Alle ekstra fondse gaan ten bate van #LEEF LIEFDE, ‘n organisasie waar ons nie net Liefde praat nie, maar Liefde op ‘n praktiese manier leef.

Kontak gerus die volgende nommers vir meer inligting:

082 479 3343
079 471 3901

Dibi Breytenbach

Dibi Breytenbach kan nie ’n tyd in haar lewe onthou dat sy nié geskryf het nie. Die lewe wat tussen die buiteblaaie van ’n boek gebeur, is nog al die jare ’n baie belangrike aspek van haar lewe. Sy het egter eers haar hand aan ’n roman gewaag nadat sy haar in haar professie gevestig het. ’n Liefde vir woorde, stories en mense het haar genoop om haar in die regte te bekwaam en sy werk al baie jare in die strafregstelsel, veral met kindersake. Sy het eerstehandse kennis oor hóé die stelsel sy jong slagoffertjies hanteer en hoewel daar baie hartseer en tragedie te vinde is in hierdie omgewing, verstom die kinders haar altyd met hulle deursettingsvermoë en vergewensgesindheid.

Henk Breytenbach

Henk Breytenbach het B.Sc. in Rekenaarwetenskap. Hy werk en woon in Hartebeespoortdam. Hy word veral geboei deur die wel en wee van voormalige agente van die formele intelligensie-agentskappe, die ou Apartheidspioene, en wonder dikwels wat van hulle geword het. Dit is ryp grond vir spekulatiewe fiksie. Hy debuteer in 2015 met sy eerste spanningsroman.

Hans du Plessis

Hans du Plessis is op 15 Januarie 1945 in Pretoria gebore. Hy matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria en behaal ’n B.A. aan die Universiteit van Pretoria. Terwyl hy onderwys gee, verwerf hy ook die U.O.D., Hons. B.A. en M.A, laasgenoemde twee met lof, aan UNISA. In 1975 verwerf hy ’n doktorsgraad in Afrikaanse Taalkunde ook aan UNISA. Daarna volg hy ’n postdoktorale kursus in die linguistiek aan die Universiteit van Harvard. Hy woon verder in 1991 skryfskole in Iowa en Oklahoma by. Hy het reeds 160 publikasies agter sy naam, maar debuteer in 1978 as skeppende skrywer met die digbundel Kleinwild. Sy akademiese publikasies sluit taalkundehandboeke en taal- en letterkunde-artikels in nasionale en internasionale tydskrifte in. Sy skeppende werk sluit ses digbundels, drie jeugromans en vier romans in. Verder publiseer hy ook vele gedigte, rubrieke en kortverhale. Ses dramas en musiekspele uit sy pen word by verskillende kunstefeeste opgevoer. Sy veertiende, Karos orie dyne, verskyn binnekort. Hy verwerf onder andere die C.R, Swart-prys vir tienertoneel, die ATKV-kinderboekprys, ’n erepenning van die SA Akademie en die CBSA-prys vir godsdienstige werk vir die digbundel, Innie skylte vannie Jirre, waarvan daar nou reeds meer as 65 000 eksemplare verkoop is. Hans du Plessis is getroud met Magdaleen Potgieter en hulle het vier getroude seuns en sewe kleinkinders.

Anemari Jansen

Anemari Jansen het ’n meestersgraad in Afrikaanse letterkunde. Haar debuutroman Glipstroom is in 2014 deur Human & Rousseau gepubliseer. Sy het drie kinders en woon in Alberton. Anemari is passievol oor die versoenende rol wat persoonlike narratiewe kan speel in die huidige diskoers in Suid-Afrika.

Ilse Salzwedel

Ilse Salzwedel is een van die bedrywigste joernaliste in Afrikaans. Haar werk het al in feitlik elke Afrikaanse tydskrif en koerant verskyn, en die lys van onderwerpe waaroor sy al geskryf het is so wyd soos die Heer se genade. Van pynappelfeeste tot Hertzogpryswenners, skerts sy. “Ek kan my nie ‘n dag sonder skryf voorstel nie – dis soos asemhaal, en daarom het ek nog maar altyd probeer om te skryf oor alles wat redakteurs na my kant toe stuur. In die proses het ek ‘n fantastiese versameling nuttelose feite in my kop versamel, wat natuurlik van my die ideale spanmaat maak vir Trivial Pursuit!” Wat skryf sy die graagste? “Stories oor gewone mense. Dis wonderlik om te hoor hoe mense aanpas, oorleef, planmaak en sukses behaal – dikwels ten spyte van baie hindernisse op hul lewenspad.

Madelein Rust

Madelein Rust se liefde vir die geskrewe woord begin in die klein skoolbiblioteek van Brandwag Primêr in Bloemfontein, waar sy pousetye die een boek na die ander verslind. Sy slyp haar skrywerstande reeds op skool, waar sy uitblink in stelwerk en opstelkompetisies. As jong ma sluit sy aan by die Bloemfonteinse Skrywersvereniging, waar sy ’n aantal pryse wen in die vereniging se jaarlikse skrywerskompetisie vir amateurskrywers.

Fanie Viljoen

Trefferboeke soos Slym, Klou, Betower, Bravo, Lulu, Aksieheld Austin en die Nova-wetenskapfiksiereeks het van Fanie Viljoen ’n huishoudelike naam gemaak. Fanie het in Welkom grootgeword. Hy het op skool reeds in kuns belang gestel, en afgesien van sy bekroonde skryfwerk vir kinders en jongmense, is hy ook ’n illustreerder en visuele kunstenaar. Van sy skilderye het ‘n tuiste gevind in Amerika, Australië, Kanada en Brittanje. Sy boeke Betower en Afkop was naaswenners in twee van LAPA se jeugromankompetisies, en hy het al ’n rits ATKV-Woordveertjies ingepalm. Fanie Viljoen woon tans in Bloemfontein. Hy skryf voltyds.

Didi Potgieter

Didi Potgieter woon haar lewe lank op Potchefstroom in Noordwes. Vandat sy kan onthou skryf sy liefdesverhale in haar kop, maar ʼn finalejaarsopdrag het haar gedwing om dit op papier te waag. So het haar eerste Romanza, Leer my liefhê, die lig gesien. Met ʼn man, twee kinders en die verantwoordelikheid van brood op die tafel sit, was tyd vir skryf maar min. Tog het die stories en die karakters bly opduik en aan die begin van 2017 het sy besluit om voltyds te begin skryf. Didi wen in 2018 die ROSA (Romance Writers of South Africa) Imbali-toekenning met Liefde vir ’n ridder, en was al twee keer ’n finalis vir die ATKV-Woordveertjiesprys.

Louise van der Merwe

Louise van der Merwe het van haar tienerdae af haar neus in ’n boek. Om eendag haar eie boek vas te hou het ’n ontwykende droom geword waaraan sy hardkoppig vasgeklou het en het met Kiekies en Koffie haar debuut in 2020 gemaak. Sy’s met haar eie held getroud en is steeds dolgelukkig ná drie woelige kinders. Sy’s ook mal oor liefdesverhale want liefde is mooi, lekker en raak nooit oud nie!

Hannes Barnard

Hannes Barnard is die jongste van drie broers en die seun van ’n dominee. Tussen 2002 en 2012 is hy woonagtig in Engeland, waar hy meestal as projekbestuurder vir ’n konstruksiemaatskappy werk. Ná dit het hy vir twee jaar in die Seychelle gewerk. Hy en sy vrou keer terug na Suid-Afrika in 2017, waar hy nou voltyds fokus op sy skryfwerk. Halley se komeet is sy debuutroman.

Susan Cilliers

SUSAN CILLIERS is sedert 2010 Netwerk24 se verslaggewer in Noordwes. Sy was vroeër ‘n artikelskrywer by Huisgenoot en het ’n meestersgraad in joernalistiek. Cilliers is ook die skrywer van die topverkoper Huis van Gruwels: My 16 jaar in die Springs-hel, wat ook in Engels beskikbaar is.

Annerle Barnard

Annerle Barnard is in Musina gebore. Aan die einde van haar graad 4-jaar verlaat haar gesin die Bosveld met sy onderstebo bome na die rooi grondvlaktes van die Noordwes-provinsie. Sy het aan die Hoërskool Wolmaransstad gematrikuleer. Annerle gaan studeer aan die Noordwes Universiteit waar sy in 1993 ‘n BA (Hons) (Engels) en ‘n Hoër Onderwysdiploma voltooi. Annerle is getroud en het twee sportmal seuns en ‘n wonderlike, ewe sportiewe stiefdogter. Annerle hou van lees, reis en om in die natuur te wees. En dit spreek vanself dat sy na baie sport kyk. Haar leuse is “moet nooit moed opgee nie”.

Sidney Gilroy

Sy kleintyddroom was nooit om ’n skrywer te word nie, maar toe hy eers onder die bekoring van lees gekom het, het daar vir hom ’n nuwe wêreld oopgegaan. Sy eerste spanningsroman, Klikbek, het gewys Sidney Gilroy is ’n skrywer in ’n uitdagende genre wat jy nie vlak moet vat nie. Sidney het op twee plattelandse dorpies grootgeword – eers Virginia en later Harrismith – wat dan ook die fokuspunt in Middernag is. Al werk hy in Pretoria as ’n operasionele bestuurder vir ’n telematiese inligtingstegnologiemaatskappy, sal jy hom altyd aan die buitewyke vind. “Iewers waar die stad na links is, en die veld net agter my bakhand na regs.”

Chris Karsten

Karsten is op Morgenzon in Mpumalanga gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Hoogenhout in Bethal en voltooi ‘n BA-graad in Afrikaans en Nederlands en sielkunde aan die Universiteit van Pretoria (1970). Hy begin sy loopbaan as joernalis by Die Volksblad, en werk later by die koerante Beeld en Rapport. Chris het twee boeke vir kinders geskryf, naamlik Floris sapiens (1985) en Die jokkie wat met perde kon praat. Hy ontvang die Sanlam-prys vir jeugliteratuur (silwer) vir eersgenoemde. Sy eerste roman, Frats, verskyn in 2007 en ontvang die ATKV-prys vir prosa daarvoor. As joernalis was hy betrokke by baie van die verhale wat later in sy True Crime-reeks verskyn het, soos Bad kids: South African Youngsters who Rob and Kill, Headline Murders: Slayings which Shocked South Africa, en Killer Women: Fatal South African Women. Hy het in 2009 ‘n biografie oor Charlize Theron (Charlize: Ek leef my droom) en (Charlize: Life’s One Helluva Ride) geskryf. Chris publiseer in 2009 ‘n misdaadriller, Seisoen van sonde, wat gevolg word deur nog drie, naamlik die Abel-trilogie. Chris is afgetree en woon tans in Kanada.

Cecilia Steyn

Cecilia Steyn is ‘n skrywer van Orkney in Noord-Wes. Sy is in Welkom in die Vrystaat gebore. Na matriek begin sy ʼn loopbaan in die apteekbedryf waar sy vir baie jare as takadministreerder werk. In 2014, onder die mentorskap van haar broer en bekende skrywer, Fanie Viljoen, probeer sy vir die eerste keer haar hand aan die skryfkuns. In 2015 woon sy ʼn ATKV-skryfskool by die NWU by. Cecilia behaal sukses in die jeug-genre met verhale soos en is ook gewild by jonger lesers veral omdat dit ʼn sterk omgewings- en bewaringsfokus het. In 2017 ontvang sy ‘n ATKV-Kinderboektoekenning vir Tienerharte 2, Hartedief en in 2018 vir #PresiesAnders, Eksperimente en Eerste Soene.

Neels Jackson

Die joernalis Neels Jackson is bekend vir sy ingeligte en kundige verslaggewing oor sake rakende kerk en geloof. Na meer as 23 jaar as kerkverslaggewer van Beeld en ander Media24-koerante, redigeer hy die NG Kerk-koerant Kerkbode vir vyf jaar. Hy het uitstekende betrekkinge met teoloë en kerkleiers van verskillende denominasies, en het sittings bygewoon van die sinodes van die NG Kerk, die NG Kerk in Afrika, die voormalige NG Sendingkerk, die Metodistekerk en die Anglikaanse Kerk. Hy woon in Pretoria saam met sy vrou. Hulle het twee dogters.

Stefan Enslin

Stefan Enslin is ‘n bekroonde Suid-Afrikaanse filmprodusent, romanskrywer en draaiboekskrywer en stigter van die produksiemaatskappy Faith in Motion Productions. Hy werk sedert 2011 in die vermaakbedryf en is bekend vir sy betrokkenheid by films soos Klein Karoo, Strikdas, Verskietende Ster, Nul Is Nie Niks Nie en Liewe Kersfeesvader; die televisiereeks NoupadFM; sowel as internasionaal bekroonde kortfilms getiteld The Love Bombs. Hierdie veelsydige storieverteller is ook die hoof van produksie by die aanlyn digitale Christelike televisiekanaal, RoepTV.com, en sy nuutste roman, Tweede Kanse, is in 2018 gepubliseer. Sy eerste roman, Verskietende Ster, waarop die filmweergawe gebaseer is, is vrygestel in 2013. Stefan deel sy reis en getuienis met verskillende gehore, plaaslik en internasionaal.

Open chat
1
Scan the code
Hello
Can we help you?